Giep Hill is sewentig jaar gelede as jongste kind van Gideon en Martha Hill op Rusplaas in die Witrivier distrik gebore. Sy skoolloopbaan begin in 1956 by Witrivier Laerskool en hy matrikuleer in 1968 aan die Rob Ferreira Hoërskool in Witrivier. Op 23 Junie 1973 trou hy met Rinie en uit die huwelik is twee seuns gebore: Cobus (1975); en Edward (1977). In die vroeë 1980s is Ronaldo, ‘n gesig-gestremde seun, as pleegkind aangeneem. As lotelinge het beide sy broers as artilleriste diens gedoen en met dié agtergrond sluit Giep op 6 Januarie 1969 as artilleris by die SA Leër se Staandemag aan. Gedurende sy militêre loopbaan dien hy in verskillende poste by 4 Veldregiment (insluitend 3 jaar by 43 Battery in Walvisbaai); Artillerieskool; 4 SAI Bataljon Groep in Middelburg; en 10 Artillerie Brigade. Tydens sy termyn by 4 SAI Bataljon Groep het Giep ook operasionele diens saam met 61 Gemeganiseerde Bataljon Groep en 32 Bataljon verrig. Sy laaste pos in die Staandemag was vir 6 jaar in Pretoria by die SA Leër se Direktoraat Projekte met onder andere ‘n aansienlike rol in die G6 kanon se VASVAT inbedryfstelling program. Aan die einde van 1996 verlaat hy die Staandemag met ‘n skeidingspakket. In 2006 sluit hy by die SA Leër se Reserwemag aan as RSM van 18 Ligte Regiment en in Oktober 2016 sluit hy sy militêre loopbaan formeel op af. Hy bly egter aktief betrokke by die artillerie en Kanonniersbond en is gereeld by funksies en ander aktiwiteite gesien. Sy militêre kennis en ervaring het hy ook goed toegepas deur vanaf 2013 tot 2017 vir Price Waterhouse Cooper en Vodacom as Projek Ondersteunings Konsultant spesialis diens te lewer. Sedert beide se aftrede het Giep, Rinie en Ronaldo groente verbou en die tuin by hul huis in Daspoort geniet. Giep het geruime tyd gesukkel met onnatuurlike buikswelling en erge pyn ten spyte van drastiese gewigsverlies. Sedert middel 2019 was hy gereeld onder dokters behandeling met gepaardgaande “scopes” en Sonar ondersoeke. In September 2019 word die probleem gediagnoseer as bakteriële maag infeksie afkomstig uit Afrika state wat vinnig na ander organe uitgebrei het. Groot hoeveelhede water is ‘n paar keer uit die buik dreineer en in April 2020 was ‘n bloedoortapping nodig na inwendige bloeding. Op 5 Maart 2021 is Giep weer opgeneem met inwendige bloeding. ‘n Groot hoeveelheid water is ook uit sy linker long dreineer. Alhoewel sy toestand effens verbeter het was Giep tot die einde ‘n baie siek mens. Giep Hill se alomteenwoordige vriendelikheid en die glinsterende oë wanneer hy praat sal gemis word deur almal wat hom vir meer as 50 jaar geken het. Rus sag en sonder pyn ou vriend! ![]() |
